Die lewe is ‘n reis, ‘n avontuur, en ‘n leerskool. En weet ons dit nie! Laughing Chefs het amper ‘n dekade terug formeel tot stand gekom. Eers het ons net gespeel, en toe baie ernstig besigheid begin bou. Vanuit Magrieta se kombuis het ons vir groter besighede, meer mense, langer tye, en so bietjie meer geld, begin kook. Kook het toe verander in kook-en-beplan, en toe sommer ook huur-dit-in en maak-dat-self. So eindig ons op om groot funksies en feesvieringe te beplan, op te stel, behartig en te beman, en weer af te breek. En ons maak die kos en drankies ook so tussen in! Van blomme tot uitnodigings, spesiale klankbane na dansbane, ons reel en huur en bou. Ons kook en bak en brou, en met groot funksies waar ons die kroeg ook behartig shake en stir ons so tussenin ook. Dit was lekker tye, moeilike tye, vrugbare tye. Ons het so baie hoogtepunte gehad (en ‘n paar laagtepunte…) en sulke lekker herinneringe. Vir meer as 4 jaar jaag ons so rond, doen alles, en hopelik alles goed. Ons leer en word wyser, want elke nuwe funksie, nuwe kwotasie, nuwe klient, is nog ‘n geleentheid om ons self te vestig as kenners op ons gebied. Selfs die paar oepsies wat ons gehad het (die laagtepunte) kon ons iets uit neem om seker te maak dit gebeur nie weer nie. Mens leer mos uit jou foute!
Soos ons gegroei het het ons vel te klein geword (ons het letterlik uit ons nate gebars! Ons toerusting het die wêreld vol gestaan want die kaste en store was vol!) en moes ons ‘n nuwe tuiste soek. En daar kry ons die restaurant in Soutpansbergweg. Nou daar het ons gewerk! Nie net gekook en gebak en geshake en gestir nie, ons het gepaint en verkoop (was kunsgallery asook kunsklas-venue), musiek gemaak en vertonings aangebied (van ons land se bestes was op ons verhoog), werkswinkels, fondsinsamelings, afskeidsetes, troues, en nog meer. Niks was te veel nie. Hier en daar het ons van ons vorige ondervinding gebruik, en die res so on the job geleer. Kennis is mos ‘n landery – as jy nie ploeg nie sal jy nooit kan pluk nie! Ploeg het ons geploeg (soms ook maar geswoeg!) en ons kennis het gegroei.
Ons reis was nog nie verby nie, ons eindbestemming toe nog nie eers in sig nie! Die restaurant het te klein geword, of Suid Afrika se ekonomie het te uitdagend geword, maar ons voete het gejeuk vir die volgende uitdaging. En nou het ons hom. Dit lyk asof ons avontuur nou eers werklik begin het, en ons wil dit graag met julle deel. Hier in Tierpoort ploeg ons weer. Nou leer ons hoe om beddens op te maak (gastehuis) en vure te bou (lekker kuier-boma met ‘n vuurpit in die middel) en lam van ‘n spit af te sny. Gelukkig hoef niemand ons te leer hoe om lekker boerekos te maak nie! Maar een ding wat almal van verseker kan wees, die lesse wat ons al geleer het het ons goed geleer. Net ‘n donkie né, en ons is g’n donkies nie. Ons sien ons self as experts op van die gebiede, en is seker ons aanhangers kan saamstem – deur skade en skande word ‘n mens wys. Skade het ons al baie gehad, van weerligstrale wat alles uitslaan na ‘n week lange kragonderbreking. Skande weet ons minder van, en mag dit so bly. Gelukkig het ons nie die skande nodig gehad om wys te word nie! Kom klop aan ons deur, kry ons expert opinie, en sommer ‘n kwotasie daarby, vir jou volgende belangrike byeenkoms, viering, of werksgeleentheid. Maak gebruik van ons jare se ondervinding, ons netwerk van verskaffers, en ons oneindige goeie idees!